Die Joghurt Tekort In Taiwan & Die Gepaard Gaande Suid-Afrikaanse Frustrasie!

IMG_6904

Mense, ek wil hê julle moet baie, baie mooi kyk na hierdie foto.  Hierdie is vanmiddag geneem by ‘n “upper class” supermark in MegaCity Mall in Banciao.

Hierdie mall het alle winkels en name, van Dior tot Armani.  Hierdie supermark het van die beste ingevoerde vleise, kase, sjokolades, souse, wyne en nog duisende meer.  Hierdie foto verteenwoordig die totale hoeveelheid joghurt in die winkel.

Die rede hoekom ek dit by HIERDIE supermark in HIERDIE mall geneem het, is om te wys dat as daar SO MIN joghurt by HIERDIE mall is, dan is die situasie veel erger by alle ander kommen supermarkte in Taiwan, want hierdie mall het net die beste (en die meeste) van alles.

HIER IS NIE JOGHURT IN TAIWAN NIE!!!! Die enigste joghurt is ingevoer, ‘regular’, vervelig en die interessantste gegeurde keuse is een of ander Duitse joghurt wat kamma “fruity” is en jy betaal R34 vir ‘n 500ml houertjie.  Ek dink nou nie astronomies nie, maar die probleem hier is keuse.

Opsomming:  stap môre by ‘n Pick & Pay of Checkers in (beter nog, Woolworths) en kies vir jou ‘n ENORME tub Dannon aarbei joghurt.  Maak daai houer oop, lek die deksel af voordat jy hom neersit, neem ‘n lepel, druk hom daar in en neem ‘n mondvol en dink aan ons suiwel-lose Suid-Afrikaners in Taiwan!