Die (+) & Die (-) Van Publieke Busse In Taipei

Ek het dit dalk al vroeër genoem, maar publieke busse is regtig ‘n baie doeltreffende manier om van A na B te kom in Taipei, mits jy voor die tyd, soos in enige stad, jou huiswerk doen oor die roetes.
Die prys van ‘n rit is NT$15 (ongeveer R5), maak nie saak waar jy opklim en hoe vêr jy ry nie.
Vanoggend was net weer een van daardie oggende tye wat ek van die bus af wou storm, maar gelukkig het die gees van Vrydag my kalmeer. Die rede(s) hiervoor is die volgende:

Dinge wat my die heel meeste irriteer op die busse:

1) Die heerlikste is om ‘n sitplek op die bus te vind as jy opklim. Wat my gek maak is as ek NET gemaklik sit en by die volgende halte klim ‘n ou tannie op. Ewe ordentlik moet jy dan jou plekkie afstaan. Glo my, dit maak regtig nie saak nie. Wel, meeste van die tyd nie. Somtyds is jy regtig net lus om bietjie langer te sit, maar ek is nog nie eenkeer NIE vriendelik bedank vir my daad nie, so dit maak dit die moeite werd🙂

2) Die opstaan is my tweede probleem. Jy gaan nie glo hoeveel mans onder die ouderdom van 40 staan nie op vir ouer mense op busse nie. Nee, nie almal nie, maar meeste. Vroue van alle ouderdomme is onmiddellik om op te spring en plek af te staan.

In die oggende is ek gewoonlik so 08:15 by die halte. By my halte is daar ‘n ou so in sy laat twintigs. Ons sien mekaar gereeld en vir een of ander rede beland ons die afgelope maand gereeld op dieselfde bus. Vanoggend weer het die kalant ‘n ou tannie sien opklim. Sal hy sy stert lig uit sy gemaklike stoel? Jy ken die antwoord. Ek moes toe opstaan. Ek herhaal, ek gee nie om nie, maar ek wou hom al teen die kop gaan klap. So ja, meeste van die tyd is dit die “foreigner” wat opstaan vir oumensies. Goed grootgemaak, jy sien?

3) ‘n Bus, enige tyd vanaf 07:00 in die oggend tot so ongeveer 09:00 is ‘n miernes. Hierdie mense sal eenvoudig aanhou opklim by die haltes, al moet hulle op die onderste trappie van die bus staan en al moet die deure jou boude knyp, maar op MOET jy op. Jy kan eenvoudig NET NIE wag vir die volgende bus wat oor 5 minute hier gaan wees nie. Naderhand is ons so ingedruk op die bus dat jou skouers aan almal raak en die tannie voor jou se hare is (letterlik) in jou gesig soos die bestuurder om draaie jaag en vir skoeters rem.

4) Sommige bestuurders se alewige gekou oor die interkomstelsel. Kyk, as jy inligting uit my wil hê kan jy my voetsole met ‘n bamboes slaan, jy kan my “waterboard” en jy kan my met warm ysters brand. Ek sal seker een of ander tyd praat. …maar kom lek nou ‘n draairoomys langs my of kou oopmond dat ek kan hoor hoe maal jou kos, dan praat ek binne sekondes. Ek kan nie die enige geluide wat uit ‘n mond uitkom hanteer nie. Partykeer sit sommige bestuurders en kou neute (of watookal) en die stelsel is wawyd oop vir almal om na te luister op die bus. Die kersie op die koek is natuurlik as hulle burp :: gebeur net so gereeld.