Treinkaartjies Koop…


Gister ploeter ek toe vir die eerste keer op my eie na Keelung aan die weste van die eiland. Hierdie was die eerste keer dat ek self daar moes kom en ek gaan jok as ek sê as was nie bietjie senuagtig nie aangesien ek altyd in die verlede saam met ander mense gegaan het en hulle het altyd die kaartjies gekoop aangesien hulle Chinees, wel, ‘n duisend keer beter was as myne.
Stap ek toe by die Banciao treinstasie in. Oudergewoonte skakel ek my selfoon op ‘silent’ en maak of ek heerlik met iemand staan en praat (ja mense, ek doen sulke tipe goed…. maak vinnig daarmee vrede) want as jy verdwaas na elektroniese borde staan en gluur dan kan jy netsowel met ‘n enorme wit bord bo jou kop staan waarop geskryf staan “TOERIS”. Die resultaat is gewoonlik dat iemand na jou toe aangestap kom en hulle hulp aanbied, wat oulik is maar hierdie een wou ek op my eie doen😀
Dis eintlik baie baie maklik. KYK net na wat aangaan, dis nie moeilik nie! Alles is gelukkig in Chinees EN Engels geskryf. Op die elektroniese bord (foto 1) staan daar duidelik die trein na Keelung, die vertrektyd, die nommer van die trein en die platform.
Staan toe in die ry om kaartjie te koop. Gelukkig was die vroutjie se Engels nie te sleg nie. Kaartjie gekoop ( *dankie tog* ) en afgegaan na die platforms toe.
Weereens is dit baie maklik. Kyk net na die borde wat aandui om na die treine te gaan. As jy daar aankom gaan jy eenvoudig na die area waar jy moet opklim, duidelik gemerk as ‘PLATFORM 1’ & ‘PLATFORM 2’ :: daar is net twee so dis nie moeilik nie😀
Jy sit jou kaartjie in die masjien, die deurtjies gaan oop en jou kaartjie kom anderkant uit met ‘n gaatjie daarin gepons. ASSEBLIEF hou net die kaartjie anders kan jy nie by jou eindbestemming deur die hekke gaan nie en dit gaan dalk beteken jy moet weer die volle bedrag betaal, OF jy gaan ewe skielik moet begin Chinees praat en vir die omie verduidelik wat soek jy op die trein sonder ‘n kaartjie. Hmmm…
Elkgeval, as jy onder aanland by platform 1 dan is dit so maklik soos om of links of regs te staan waar daar duidelik A & B gemerk is.
Eienaardig genoeg is daar ‘n area wat aandui waar vroulike passasiers in die aande kan wag. Nogal ironies aangesien hier seker eenmaal elke 6 maande ‘n vrou in die hele Taiwan aangeval word.