Tee Koop Is Toe Nie So Moeilik… :)


Om iets oor die toonbank te bestel kan partykeer ‘n probleem wees aangesien hulle jou nommer uitroep.
In die eerste plek is dit gelukkig maklik om iets te bestel aangesien dit in Engels aangedui word op die borde en spyskaarte, maar die persoon verstaan nie noodwendig die Engelse weergawe nie, so mens moet maar vinger wys terwyl jy die item van jou keuse uitroep.
As die plek stil is, is dit nie ‘n probleem om jou bestelling in die hande te kry nie want jy is die enigste persoon wat daar staan, so die verskoopspersoon weet presies aan wie om die bestelling te gee🙂
…maar as daar nou 12 mense daar ronddrentel en vir hulle bestellings wag dan kan dit ‘n probleem raak as hulle jou nommer uitroep en jy weet nie wat dit is in Chinees nie! Sien, ek ken nou al 1 tot 10 in Chinees, maar in stede daarvan om te sê “een vier nege” sê sommige van hulle “honderd nege en veertig”. Probleem. Oplossing? Jy hou net eenvoudig jou kaartjie voor jou sodat die persoon jou nommer kan sien (ja, amper soos om vir iemand by die lughawe te wag met ‘n lawwe bordjie).