Taipei MRT


Ek het nog nie iets oor die ondergrondse metro gesê nie.
Oraait, baie eenvoudig: jy kan of so ronde plastiese disket koop vir jou rit of jy koop ‘n metrokaart wat x-bedrag geld op het sodat jy nie elke keer hoef ‘n disk te koop nie. Hulle sê dis glo goedkoper ook om die kaart te hê want jy bespaar :: ek het tot dusver nog nie die besparing gesien nie.
As jy by die elektroniese (lyk soos ‘n OTM) masjientjie kom, kyk jy na die kaart bo-aan die skerm: hy sal presies vir jou sê hoe groot ‘n disket (groot in terme van geld, nodeloos om te sê) jy moet koop :: hy wys vir jou presies waar jy nou is en waarheen jy wil gaan. Jy gooi jou geldjies in, kies die bedrag wat jou rit gaan kos, kom ons sê NT$30, en hy spoeg ‘n ronde plastiese disket uit so groot soos ‘n R5 stuk, plus jou kleingeld, indien nodig.
Dan loop jy soos die man in die foto na die hek :: by die hek is ‘n paneel wat duidelik aandui waar jy jou disket of metrokaart oor moet swipe (die man in die foto swipe syne), en die rooi hekkie gaan oop.
As jy nou by jou stasie daar anderkant aankom en jy wil die stasie verlaat, herhaal jy die proses, instede dan nou van swipe, deponeer jy jou disket in so gleufie en dan eers gaan die hek oop. Op daardie manier steel jy nie die disket nie (weet nie regtig hoekom jy sou wou nie) en hulle ‘recycle’ dit vir hergebruik🙂
*Word to the wise: dit neem ‘n rukkie om die lyne en stasies te leer ken, maar ek belowe julle, jy kom reg. PARTYKEER (net aan die begin want as jy na 2 maande STEEDS op die verkeerde trein klim het jy net eenvoudig net gaan staan waar mense is en nie jou oë oopgemaak nie OF jy kom van die pub af) klim jy per ongeluk op die trein wat in die teenoorgestelde rigting gaan. Gelukkig nie ‘n probleem nie: jy klim by die volgende stasie net eenvoudig af, loop na die anderkant van die platform en wag vir die volgende trein wat jou weer na die teenoorgestelde rigting neem. Dis baie eenvoudig, en daar kom so elke 2-3 minute ‘n trein😉