Die Grim Golwe van Kultuurskok


Dis baie eienaardig hoe hierdie fenomeen werk.
Baie dinge wat met jou gebeur kan onder hierdie opskriffie val: alles wat vreemd en nuut is in die land waarin jy jouself bevind.
Kultuurskokke tref jou so in vlae en as jy dit as ‘n tydlyn op ‘n bord kon teken dan volg die stadia mekaar nie stap vir stap nie.
Party dae gaan dit goed :: jy geniet die kultuur, die mense, die strate en busse en taxis en geluide en die snaakse reuke. Ander dae kan ek nie vir jou beskryf hoe dit mens irriteer nie. Daardie reuke laat jou maag ‘n draai maak, die STADIGE, drentelende “ek-het-die-HELE-flippen-dag-voor-my” mense wie nie padgee op die sypaadjies nie maak jou rasend en jy brom ‘n vieslike Afrikaanse woord (en kom ons lieg nou nie vir mekaar nie: daardie “woord” is nie die nederige ‘poepol’ nie, oraait? …in so situasie begin die woord gewoonlik met ‘n “F”, …of gewoonlik erger…).
Nog voorbeelde is mense wie jou skaamteloos op die bus verdruk sonder om liggies aan jou te tik en aan te dui hulle wil graag verbygaan. Die reuke op straat waarvan ek gepraat het is regte soos niks wat ek al geruik het nie. Gelukkig is dit regtig net vir ‘n split sekonde maar dit voel soos ‘n ewigheid en asof jy afgedaal het tot in die sewende vlak van die hel. Gewoonlik as so iets gebeur dan verlang ‘n mens na jou huis en omgewing en land. Soos ek genoem het is dinge soos inkopies partykeer ‘n issue. Partykeer wil jy jou hare uit jou kop uittrek as iets by die woonstel fout gaan want jy WEET jy kan nie gou op die foon klim en iemand net bel nie. Die wasmasjien se deur was dan amper twee weke se gesukkel!
Jy is soms bekommerd oor jou gesondheid en eerder té versigtig want jy weet dit gaan nie so maklik wees soos om net gou by die apteek in jou dorp in te hardloop en met jou apteker te gesels nie. Al hierdie dingetjies het so manier om jou vreugde te bekruip en as jy dit nie vermoed nie, dit keelaf te sny.
Ek het nou weer vandag so dag gehad :: dat jy somtyds in die aand stywe nekspiere het en net oor die algemeen gagga voel in jou lyf.
Kry ek myself jammer? Nee, glad nie. Klim ek môre-aand op die eerste vliegtuig terug na Suid Afrika? Nooit. …..maar, daar is ‘n ding met die naam van kultuurskok. Ongelukkig kan mens dit glad nie vermy nie, maar dit hou gelukkig nie lank nie🙂
Ek weet soos ek weet: môre-oggend voel ek weer so vars soos ‘n daisy!😀 ….dankie dat jy gelees het😉